WES-KAAP. – Hoërskool Fairmont het in twee afsonderlike huldeblyke afskeid geneem van oudleerlinge Eathan van Rensburg en Deen West. Eathan, wat in 2018 aan Fairmont gematrikuleer het, is die afgelope naweek in ’n botsing in Randburg dood.
Die skool onthou Eathan vir sy breë glimlag en die manier waarop hy ander welkom laat voel het. Craig van Rensburg sê in ‘n sosialemediaplasing Eathan het by ’n verkeerslig stilgestaan toe ’n ander voertuig reg van voor teen sy motor gebots het. Hy onthou Eathan vir sy aansteeklike energie, sy harde lag en sy warm drukkies. Megan Ilgen het namens die Van Rensburg- en Krause-familie almal vir hul oproepe, boodskappe, gebede en ondersteuning bedank.
Fairmont het Deen se afsterwe namens die Naudé- en West-families bekend gemaak. Die skool onthou hom vir sy goedhartigheid en aansteeklike lewenslus. Deen en sy broer was albei leerlinge aan Fairmont, waar Deen se ma, Annalisa Naudé, voorheen as ontvangsdame gewerk het. Fairmont het sy medelye met albei oudleerlinge se families, vriende en voormalige klasmaats betuig.