NOORD-KAAP. – Danfrid Morolong, Bennert Hendricks, Abrich Niewenhuizen, Velaphi Makabe, Tevin Katz, Godwin Leukes, Zenobia Smit, Jennifer Lovern, Elemery Jacobs en Douglas Njiji het Maandag in die Douglas-distrikshof verskyn. Hulle het na bewering tydens die munisipale verkiesing by ’n geslote stemlokaal in Douglas ingegaan, stemmateriaal beskadig en amptenare van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) in hul werk belemmer. Daar sal volgens die OVK herstem moet word.
Mojalefa Senokoatsane, NVG-streekwoordvoerder, sê die beskuldigdes was na bewering nie geakkrediteerde party-agente nie en het die lokaal binnegegaan toe amptenare voorberei het om die stemme te tel of reeds besig was om stemme te tel. Stembusse, stemhokkies, stembriewe, tafels en stoele is na bewering beskadig. Die 10 word van oortredings van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Verkiesings aangekla. Morolong staan ook tereg op ’n afsonderlike aanklag van belemmering van OVK-amptenare in verband met ’n beweerde voorval by ’n ander stemlokaal.
Die 10 is steeds in aanhouding nadat hul borgtogverrigtinge Maandag begin het en tot vandag (Dinsdag) uitgestel is.
Mosotho Moepya, voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie, het Sondag 8 November tydens die amptelike bekendmaking van die munisipale verkiesingsuitslae aangekondig dat kiesers in die Jabulani-gemeenskapsaal se stemdistrik in Douglas weer sal stem. Die stemdistrik val in wyk 3 van die Siyancuma- plaaslike munisipaliteit. Die OVK het die herstemming gelas nadat stembriewe vernietig is voordat dit getel kon word. Moepya het nog nie ’n datum vir die herstemming bekendgemaak nie.