Brekende Nuus
Nuus

Vrou in Kriel vermoor, lewensmaat ook dood aangetref

Foto: Ter illustrasie

MPUMALANGA. – ’n Vrou (44) is Woensdag 11 November dood op die vloer van haar huis in Kriel aangetref. Haar lewensmaat is ook dood in die huis gevind. Die polisie ondersoek die vrou se moord en het ’n geregtelike doodsondersoek na haar lewensmaat se dood geopen. 

Kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê ’n gemeenskapslid het die polisie ontbied nadat die geluid van ’n slypmasjien uit die huis in Thubelihle gehoor is. Lede van die gemeenskap het na bewering toegang tot die huis forseer nadat niemand gereageer het nie. Hulle het die vrou op die vloer en haar lewensmaat met ernstige beserings op ’n rusbank aangetref. Mediese noodpersoneel het albei op die toneel dood verklaar. Volgens die polisie dui voorlopige inligting daarop dat die paartjie huishoudelike probleme ondervind het.

Die 16 Dae van Aktivisme teen Geen Geweld teen Vroue en Kinders begin op 25 November en strek tot 10 Desember. Die doel is om bewustheid oor geweld teen vroue en kinders te skep.