OOS-KAAP. – Vyf gemaskerde verdagtes het Woensdag 11 November omstreeks 20:00 glo ’n plaashuis op Clarkson, in die Tsitsikamma-gebied binnegedring, ’n man (37) met ’n stomp aangerand en hom en ’n vrou (54) vasgebind. Die verdagtes het met R1 200 kontant, juweliersware en vier selfone gevlug.
Zibar Security Services sê die vrou het die verdagtes teëgekom toe sy die honde wou uitlaat. Hulle is daarna die huis in. Die man, wat in die stort was, het glo teruggeveg totdat hy iets gesien het wat soos ’n vuurwapen lyk. Die verdagtes het die twee vasgebind en die huis deursoek.
Die vrou is volgens die veiligheidsmaatskappy nie fisiek beseer nie. Geen vuurwapens is volgens Zibar gesteel nie. Die man en vrou kon daarin slaag om hulself bevry nadat die verdagtes weg is, en hulp ontbied. Zibar sê die polisie is gekontak en die Humansdorp-honde-eenheid is uitgestuur om te help.
Toegang is verkry deur ‘n draad van die veiligheidsomheining te knip en onderdeur te gaan. Volgens die maatskappy was daar ten tyde van sy verslag nog geen inhegtenisnemings nie.
Nuusflits het polisiekommentaar gevra.