Brekende Nuus
Nuus

2 groot litiumbatterybrande dié week in Johannesburg

Foto's: Fireblock

GAUTENG. – Brandbestryders is vandeesweek vir die tweede keer na ’n brand, deur litiumioon-batterye veroorsaak, in Johannesburg ontbied, nadat ’n brand in die kelder van ’n winkel in die middestad uitgebreek het. Meer as 300 draagbare batterykragstasies is in ’n geslote stoorhok aangetref, waar sommige van die beskadigde batterye weer aan die brand geslaan het.

Volgens Fireblock, wat op versoek van die Johannesburgse brandweer hulp verleen het, was sigbaarheid in die kelder weens digte rook byna nul. Brandbestryders moes verskeie geslote stoorhokke oopmaak om die bron van die brand op te spoor. Terwyl die kragstasies uit die kelder verwyder is, is ’n termiese kamera gebruik om warm kolle op te spoor. Die beskadigde batterye is met Fireblock lithium gel afgekoel en die batterye wat uit die kelder verwyder is, is aan Salvage Solar vir verdere hantering oorhandig.