GAUTENG. – Die Emergency Support Team (EST) het inwoners van Pretoria tydens die warm weer gemaan om gereeld water te drink, langdurige blootstelling aan die son te vermy en na mekaar om te sien. Die span waarsku dat sonsteek ’n mediese noodgeval is en dat mense dadelik hulp moet ontbied as iemand ná blootstelling aan hitte ernstig siek word. Pretoria se maksimum temperatuur sal na verwagting vandag (Vrydag) 34 tot 35 °C bereik, met koeler toestande teen Sondag.
Volgens die Mayo Clinic ontstaan sonsteek wanneer die liggaam vinnig oorverhit en homself nie meer kan afkoel nie. Dit kan ook binnenshuis gebeur as iemand te lank in ’n baie warm vertrek bly, of tydens strawwe werk of oefening in die hitte. Sonder vinnige behandeling kan sonsteek die brein en ander lewensbelangrike organe beskadig.
Hitte-uitputting kan in sonsteek oorgaan as die persoon aanhou oorverhit en nie betyds afkoel nie. Sonsteek kan ook skielik ontstaan, sonder voorafgaande tekens van hitte-uitputting.
- Hitte-uitputting gaan dikwels gepaard met hewige sweet, bleek en klam vel, swakheid, duiseligheid, hoofpyn, naarheid of spierkrampe.
- Sonsteek kan ’n baie hoë liggaamstemperatuur, verwarring, onduidelike spraak, vinnige asemhaling, stuiptrekkings of bewussynsverlies veroorsaak. Die persoon se vel kan warm en droog wees, maar die persoon kan ook steeds erg sweet.
Wat om te doen
By hitte-uitputting moet jy die persoon na ’n koel plek skuif, stywe klere losmaak en die vel met koel, nat handdoeke afkoel. Gee klein slukkies water as die persoon helder wakker is en normaal kan sluk. Kry dadelik mediese hulp as die persoon braak, slegter word of ná ’n uur steeds simptome het.
As jy sonsteek vermoed, bel onmiddellik 112 vanaf ’n selfoon of 10177 vir ’n ambulans. Skuif die persoon uit die hitte en begin hom of haar dadelik afkoel terwyl hulp op pad is. Maak die vel met koel water nat en gebruik ’n waaier, of plaas koel, nat handdoeke teen die nek, oksels en lies. Moenie die persoon iets gee om te drink nie.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) verwag dat hittegolfstoestande tot vandag sal voortduur. Volgens die SAWD sluit die gebiede Gauteng, Noordwes, die Vrystaat buiten die suidwestelike dele, die noordooste van die Noord-Kaap en plekke in die suide en suidweste van Limpopo in.
Bronne: Emergency Support Team (EST), Mayo Clinic, CDC, SAnews