Brekende Nuus
Nuus

Man in hegtenis ná beweerde dreigemente teen Alan Winde

Foto: Alan Winde

WES-KAAP. – Die polisie het ’n man (46) vanoggend (Vrydag) omstreeks 03:30 met ’n lasbrief by ’n perseel in Kensington, Kaapstad, in hegtenis geneem ná ’n ondersoek na teksboodskappe waarin die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, glo gedreig is.

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, sê die klaer in die saak het die boodskappe op 17 Oktober ontvang. Daarin is die klaer na bewering gedreig dat hy geskiet sou word. Speurders van die provinsiale moord-en-roofeenheid het saam met misdaadintelligensie gewerk om die verdagte te identifiseer en op te spoor. Die polisie het beslag gelê op ’n selfoon wat vermoedelik gebruik is om die boodskappe te stuur.

Die man staan tereg op aanklagte wat verband hou met intimidasie en oortredings van die Wet op Kubermisdade. Hy sal na verwagting vandag in die Kaapstadse landdroshof verskyn.