Brekende Nuus
Nuus

Luuksebus slaan op N3 om

Foto's: KZN Departement van Vervoer

KWAZULU-NATAL. – ’n Luuksebus het vanogend (Maandag) op die N3 net ná die New Englandweg-afrit in Pietermaritzburg omgeslaan. Volgens die KwaZulu-Natalse departement van vervoer was daar sowat 28 mense, die bestuurder ingesluit, aan boord. Mi7- noodmediese dienste het 27 beseerdes aangemeld.

KZN se departement van vervoer sê die padverkeersinspektoraat (RTI) het die LUR, Siboniso Duma, omstreeks 05:30 van die sluiting van die N3 by New Englandweg in kennis gestel. Motoriste op pad na Durban is aangeraai om alternatiewe roetes in die rigting van Hayfields of Ashburton te gebruik.

Mi7 National Group sê dié diens se paramedici is kort ná 05:00 na die toneel ontbied. Die bestuurder het glo beheer oor die bus verloor voordat dit omgeslaan het. Mi7 het saam met ander nooddienste die 27 beseerdes behandel. Hul beserings het van lig tot matig gewissel en talle is vir verdere behandeling na hospitale geneem.