GAUTENG. – Die Pretoria-landdroshof het Dinsdag 17 November die korrupsiesaak teen Vusimuzi “Cat” Matlala en 15 medebeskuldigdes tot 4 Maart 2027 uitgestel. Die hof wag op die uitslag van vertoë wat Matlala en ander beskuldigdes ingedien het. Die staat moet ook die akte van beskuldiging wysig voordat die saak vir verhoor na die hooggeregshof oorgeplaas word.
Henry Mamothame, woordvoerder van die ondersoekdirektoraat teen korrupsie (Idac), sê ’n senior aanklaer het in die hof op rekord geplaas dat ’n hersieningspaneel bevestig het dat die saak behoorlik gemagtig is en binne die direktoraat se mandaat val.
Die beskuldigdes staan tereg op korrupsieaanklagte wat spruit uit die beweerde onreëlmatige toekenning van ’n kontrak ter waarde van sowat R228 miljoen aan Medicare 24 Tshwane District, ’n maatskappy wat aan Matlala behoort.
Matlala het 15 medebeskuldigdes in die saak. Hulle is 12 polisiebeamptes, een diensverskaffer en twee maatskappye. Die saak is op 17 November uitgestel. Die 12 polisiebeamptes is kapt. Brian Neville Cartwright, brig. Rachel Matjeng, brig. Alpheus Thembinkosi Ngema, brig. Patrick Nethengwe, kol. Tumisho Nehemiah Maleka, maj.genl. Busisiwe Precious Temba, brig. Kirsty Jonker, brig. Petunia Reabetsoe Lenono, brig. Onica Ofentse Tlhoale, kol. Nonjabulo Nomfundo Mngadi, kol. Anton Paulsen en kol. Natsenge Johannes Monyai.
Die ander medebeskuldigdes is James George Murray, ‘n diensverskaffer, Medicare 24 Tshwane District en Luxo African Brand Investments.
Genl. Fannie Masemola was voorheen beskuldigde nommer 17; die aanklagte teen hom is in September 2026 teruggetrek.
In afsonderlike sake staan Matlala en vier medebeskuldigdes in die hooggeregshof in Johannesburg tereg op 25 aanklagte, waaronder 11 van poging tot moord. Matlala en drie medebeskuldigdes staan ook in die Pretoria-landdroshof tereg op aanklagte wat verband hou met dokumente wat na bewering vervals is om ’n huurkontrak vir ’n woning in Waterkloof te bekom. Dié saak is tot 11 Februarie 2027 uitgestel.
Die Ekurhuleni-blouligsaak hou verband met voertuie wat glo aan Matlala behoort het. Die vier beskuldigdes in dié saak is Julius Mkhwanazi, Imogen Mashazi, Kemi Behari en Linda Gxasheka.