Brekende Nuus
Nuus

DA vra noodoptrede oor riool wat glo in Roodeplaatdam beland

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – Die DA in Gauteng het die Stad Tshwane Dinsdag 17 November gevra om probleme by die Zeekoegat- en Baviaanspoort-rioolsuiweringsaanlegte as ’n noodgeval te hanteer. Volgens die party beland rou en gedeeltelik behandelde rioolwater via die Pienaarsrivier in die Roodeplaatdam, wat volgens die DA ’n gesondheidsrisiko vir inwoners van Kameeldrift-Oos en omliggende gebiede inhou.

Leanne de Jager, die DA se Gautengse woordvoerder oor die omgewing, sê kragonderbrekings, tekorte aan chloor en ander behandelingschemikalieë, en oorbelasting, belemmer die twee aanlegte se werking. Sy sê E. coli-vlakke in die dam het skerp gestyg en waarsku teen die risiko van wateroordraagbare siektes, waaronder tifus. Die DA het Ewan Botha, Gauteng se LUR vir die omgewing, gevra om die aanlegte onaangekondig te inspekteer en ’n nakomingskennisgewing uit te reik. 

Die party vra ook vir rugsteunkragopwekkers, ’n begroting vir instandhouding en herstelwerk om te keer dat rioolwater in die rivier beland. Hy wil hê water moet weekliks stroomop en stroomaf getoets word en dat die uitslae weekliks bekend gemaak word.