Laerskool Jan van Riebeeck in Kaapstad het nóg ’n indrukwekkende prestasie op die gebied van kodering en robotika behaal toe ses graad 6-leerders as gesamentlike wenners van die Wes-Kaapse finaal van die Kuunda Standard Bank STEAM-projek aangewys is.
Die finaal het op 28 en 29 Oktober 2026 by Laerskool Habibia plaasgevind, waar 18 skole om die hoogste eer meegeding het. Laerskool Jan van Riebeeck het saam met twee ander skole die eerste plek behaal en ’n 3D-drukker vir die skool gewen.
Die wenspan, onder leiding van juf. Suné Swanepoel, het bestaan uit Stef Nel, Helené de Kock, Antjie Samuel, Gert van der Linde, Kent Chimukuyu en Mia Laubscher.
Laerskool Jan van Riebeeck se kodering- en robotikaprogram groei
Volgens die skoolhoof, Naas Beets, is die prestasie nóg ’n bewys van die waarde van die skool se groeiende kodering- en robotikaprogram.
“Ons skool se akademiese visie omhels die feit dat kodering en robotika ’n aansienlik groter rol in die wêreld gaan speel,” sê Beets.
Hy beklemtoon dat die skool daarop ingestel is om leerders vir ’n voortdurend veranderende wêreld voor te berei deur hulle met 21ste-eeuse vaardighede soos kritiese denke, kreatiwiteit, samewerking, kommunikasie en probleemoplossing toe te rus.
Brons by World Robotics Olympiad
Die jongste oorwinning volg op nog ’n besonderse prestasie vroeër vanjaar toe die skool se graad 7-robotikaspan, ook onder leiding van juf. Suné, bronsmedaljes tydens die World Robotics Olympiad in Pretoria verower het.
Beets het sy waardering uitgespreek teenoor die onderwyseres vir haar harde werk, toewyding en passie om kodering en robotika voortdurend by die skool te ontwikkel en te bevorder.
Die twee prestasies onderstreep Laerskool Jan van Riebeeck se verbintenis tot toekomsgerigte onderrig en die ontwikkeling van vaardighede wat leerders in ’n toenemend tegnologiese wêreld sal benodig.