GAUTENG. – Die Palm Ridge-landdroshof het Dinsdag borgtog van R30 000 elk aan twee voormalige bestuurders in die Tembisa-hospitaal se teaterafdeling toegestaan in die korrupsiesaak van sowat R635 miljoen. Zacharia Tshisele (54) en Dikagisho Ernest Monnkgotla (59) het hulself by die Tembisa-polisiestasie oorgegee.
Hulle staan tereg op aanklagte wat verband hou met beweerde onreëlmatighede in die aankoop van mediese voorraad en toerusting tussen Januarie 2020 en April 2023. Die aanklagte sluit bedrog, korrupsie, geldwassery en diefstal in.
Kaizer Kganyago, NVG-woordvoerder, sê die staat beweer die twee het hul posisies misbruik om kontrakte aan ondernemings met bande met die sakeman Stefan Joel Govindraju te laat toeken. Volgens die staat is bedrieglike dokumente, fiktiewe kwotasies en frontmaatskappye in die verkrygingsproses gebruik. Tshisele het glo meer as R26 miljoen en Monnkgotla meer as R35 miljoen in ruil vir hul betrokkenheid ontvang. Die staat beweer verder dat die Gautengse departement van gesondheid en die nasionale tesourie meer as R580 miljoen aan ondernemings betaal het, hoewel die betrokke mediese voorraad en toerusting glo nooit gelewer is nie. Tshisele is geskors en Monnkgotla is ontslaan.
Die staat het nie borgtog teengestaan nie. Die hof het die saak tot 1 Februarie 2027 uitgestel sodat die inhoud van die dossier aan die verdediging bekend gemaak kan word.