Brekende Nuus
Nuus

Paspoortaansoeke nou by 480 Absa- en Capitec-takke beskikbaar

Suid-Afrikaners ouer as 18 kan nou sonder ’n afspraak by 480 Absa- en Capitec-takke om ’n paspoort aansoek doen.

Dr. Leon Schreiber, minister van binnelandse sake, hou ’n Suid-Afrikaanse paspoort by die V&A Waterfront in Kaapstad
Dr. Leon Schreiber, minister van binnelandse sake. Foto: Deur die DA beskikbaar gestel

Suid-Afrikaners ouer as 18 jaar kan voortaan by 480 deelnemende Absa- en Capitec-takke regoor die land om ’n paspoort aansoek doen.

Die minister van binnelandse sake, dr. Leon Schreiber, het Woensdag by die V&A Waterfront in Kaapstad aangekondig dat die diens onmiddellik beskikbaar is by 68 Absa-takke en 412 Capitec-takke.

Volgens Schreiber is dit nie nodig om vooraf ’n afspraak te maak om by een van die deelnemende takke aansoek te doen nie. Hy sê die digitale aansoekproses duur sowat vyf minute. Dit verwys na die tyd wat dit neem om aansoek te doen en nie na die tyd wat dit neem om die paspoort uit te reik nie.

Paspoort by Absa en Capitec: meer plekke om aansoek te doen

Die nuwe diens vorm deel van die departement se digitale vennootskap met banke en sy Home Affairs @ Home-program, wat daarop gemik is om staatsdienste makliker toeganklik te maak.

Schreiber sê die toevoeging van die 480 banktakke vergroot die aantal plekke waar Suid-Afrikaners om ’n paspoort kan aansoek doen tot 708. Dit sluit 228 kantore van binnelandse sake in.

“Danksy ons digitale hervormings neem dit nou net vyf minute om by een van dié takke om ’n nuwe paspoort aansoek te doen,” het hy gesê.

Lesers kan hul naaste deelnemende tak op My Home Affairs Online soek.

Groen ID-boekies

Mense wat steeds ’n groen ID-boekie het en by een van die 480 deelnemende banktakke om ’n paspoort aansoek doen, sal volgens Schreiber terselfdertyd outomaties ook om ’n slim-ID-kaart aansoek doen.

Die departement beoog om teen 31 Maart 2027 op te hou om groen ID-boekies uit te reik en beplan dat hulle teen 31 Maart 2028 nie meer as geldige identiteitsdokumente gebruik sal word nie.

Volgens Schreiber gebruik die paspoortaansoekstelsel biometriese tegnologie om ’n aansoeker se identiteit met die bevolkingsregister te vergelyk.

Hy sê die bankvennootskap het reeds die beskikbaarheid van slim-ID-dienste uitgebrei. Altesaam 833 banktakke bied nou vervangingsdienste vir slim-ID-kaarte aan en meer as 1,16 miljoen aansoeke is volgens hom in agt maande by deelnemende bankdienspunte verwerk.

DA verwelkom uitbreiding

Adrian Roos, die DA se woordvoerder oor binnelandse sake, het die uitbreiding verwelkom en gesê dit kan die tyd verminder wat mense aan reis en besoeke aan kantore van binnelandse sake bestee.

“Dit beteken minder tyd om na regeringskantore te reis, minder tyd weg van die werk en makliker toegang tot noodsaaklike dienste,” het hy gesê.