SA Rugby het dreigemente, intimidasie en persoonlike aanvalle op Wêreldrugby-amptenare en -administrateurs veroordeel te midde van openbare debat oor die aangeleentheid rondom die Springbokafrigter, Rassie Erasmus.
Die organisasie sê hy is bewus van die uitgebreide kommentaar, ontleding en debat oor onlangse gebeure waarby Erasmus en Wêreldrugby betrokke is.
Volgens SA Rugby word ’n groot hoeveelheid kommentaar, menings en inhoud wat deur kunsmatige intelligensie gegenereer is op openbare platforms versprei. Dié inhoud weerspieël nie noodwendig die feite, konteks of prosesse wat ter sprake is nie.
SA Rugby veroordeel dreigemente onomwonde
Wat SA Rugby egter veral kommer, is berigte oor dreigemente en beledigende gedrag teenoor Wêreldrugby-amptenare en -administrateurs op sosiale media en ander platforms.
“SA Rugby veroordeel enige vorm van intimidasie, dreigemente of persoonlike aanvalle onomwonde. Sulke gedrag het geen plek in rugby nie,” sê die organisasie.¹
SA Rugby sê respek, dissipline, integriteit en sportmangees is waardes wat nie net op die veld geld nie, maar ook van toepassing is op spelers, afrigters, wedstrydbeamptes, administrateurs en ondersteuners.
Hoewel sterk debat en meningsverskille deel van sport is, moet dit volgens die organisasie altyd op ’n respekvolle en verantwoordelike manier geskied.
Gevestigde prosesse sal gevolg word
SA Rugby sê rugby beskik oor die nodige kundigheid en bestuurstrukture om aangeleenthede van dié aard deur gevestigde prosesse te hanteer. Die organisasie sê behoorlike prosedures sal gevolg word met die beste belang van die spel voorop.
¹ Aanhaling uit SA Rugby se Engelse verklaring vertaal.