Brekende Nuus
Nuus

Man aangekeer ná dreigemente by laerskool

Foto: Reaction Unit South Africa

KWAZULU-NATAL. – ’n Man is Woensdagmiddag 18 November by die Primêre Skool Mounthaven in Mountview, Verulam, aangekeer nadat hy glo gedreig het om leerlinge en onderwysers te skiet.

Volgens Reaction Unit South Africa (Rusa) was die wapen wat by hom gevind is ’n replika. Rusa sê sy beheersentrum het 14:17 ’n oproep vir hulp ontvang. Reaksiebeamptes het ontstelde leerlinge en onderwysers buite die skoolterrein aangetref. ’n Onderwyser het aan hulle vertel dat ’n inwoner van die omgewing die leerlinge oor geraas gekonfronteer en glo gedreig het om hulle te skiet as hulle aanhou raas. Toe onderwysers tussenbeide tree, het hy hulle na bewering ook gedreig.

Rusa sê voorts die man het glo weggegaan en teruggekeer nadat die beamptes opgedaag het. Hy het glo weer die wapen uitgehaal. ’n Reaksiebeampte het hom met haar kollegas se hulp in bedwang gebring. Die man sou met die polisie se aankoms aan hulle oorhandig word.