“Hierdie is die Suid-Afrika waaroor ek droom. Vriendelike gesigte en omgee vir mekaar!” het Zanje Faure geskryf. Haar seun Livan het in ‘n omgeegebaar R150 van sy verjaardaggeld aan ‘n afleweraar gegee. Hierdie mooi daad word wyd en syd op sosiale media besing.
Faure skryf op sosiale media toe Victor in die middel van ’n storm ’n Checkers-bestelling by dié gesin aflewer, het sy hom genooi om te wag totdat die storm verby is. Haar seun Livan het die huis ingehardloop en met R100 van sy verjaardaggeld teruggekom. “I have a tip for you!” het hy vir Victor gesê.
Die trotse ma vertel Victor was so bly dat hy byna van vreugde gespring het. Hy het Livan se hand geskud en hom bedank. Nadat Livan vir Victor gevra het of hy Oros of Coke verkies, het hy vir hom Oros ingeskink, ’n sny sjokoladekoek gesny en hom nog R50 gegee. Terwyl Faure gewerk het, kon sy hoor hoe die twee buite sit en gesels. Haar dogter Lika het ook kom vra of sy vir Victor mag vra of hy Jesus ken.