Brekende Nuus
Nuus

7 vas ná kontant-in-transito-roof in Bloemfontein

Foto: Traffic 247 National News

VRYSTAAT. – Die polisie het Woensdag sewe mans ná ’n kontant-in-transito-roof in Rudolf Greylingweg in Navalsig, Bloemfontein, in hegtenis geneem. Die polisie sê ’n Mercedes-stasiewa is omstreeks 11:20 gebruik om die kontant-in-transito-voertuig te stamp, waarna dit opgeblaas is. Albei voertuie het aan die brand geslaan. Die verdagtes het volgens die polisie skote geskiet en met ’n onbekende bedrag geld gevlug.

Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê die polisie het die verdagtes in die rigting van Bloemspruit agternagesit. Vyf is aangekeer nadat twee voertuie vasgeval het. Nog twee is by ’n werkswinkel in Bloemdustria in hegtenis geneem, waar die polisie ’n BMW gevind het wat in Pretoria-Noord as gesteel aangemeld is. Beamptes het altesaam op vyf voertuie, vyf gewere, ammunisie en vyf ontstekers beslag gelê.

Die verdagtes, tussen 37 en 53 jaar oud, staan tereg op aanklagte van kontant-in-transito-roof, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en die besit van ’n gesteelde voertuig. Die Valke het die ondersoek oorgeneem.