10 oudleerlinge van die Sekondêre Meisieskool Oranje, Hoërskool Vryburg en Hoërskool Fichardtpark het onlangs as mediese dokters aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) gekwalifiseer. Die skole het hul oudleerlinge met dié prestasie gelukgewens.
Die Sekondêre Meisieskool Oranje sê sewe oud-Oranjes het saam as mediese dokters gekwalifiseer. Hulle is Roné Bresler, Anne Hagemann, Doré Botha, Annica Smith, Thanya Venter, Karlize Fivaz en Trewhella van Aswegen. Bresler, Venter en Van Aswegen het hul grade cum laude verwerf. Van Aswegen was ook die beste student in verloskunde en ginekologie. Bresler was in 2020 in matriek en die ander ses in 2021. Volgens die skool studeer verskeie ander oudleerlinge uit die matriekklas van 2021 steeds geneeskunde elders in die land.
Hoërskool Vryburg het Kgalalelo Ditire en Jayden Visagie gelukgewens met die verwerwing van hul MBChB-grade aan die UV. Albei was in die skool se matriekklas van 2021 en het in die matriekraad gedien.
Hoërskool Fichardtpark het gespog met dr. JC Viljoen, wat in 2019 aan die skool gematrikuleer het. Hy het onlangs sy MBChB-graad aan die UV voltooi.