KWAZULU-NATAL. – Die Valke en die Kranskop-polisie het Woensdag ’n Mandrax-laboratorium in Umvoti, naby Kranskop, ontmantel en ’n 31-jarige verdagte in hegtenis geneem. Dwelms, chemikalieë en toerusting met ’n geraamde waarde van R100 miljoen is gekonfiskeer.
Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, sê die Valke se narkotikaburo en die Kranskop-polisie het tydens ’n interprovinsiale operasie inligting ondersoek en die verdagte se perseel en voertuig deursoek. Beamptes het onder meer op Mandrax-poeier, tablette en ’n tabletvervaardigingsmasjien beslag gelê.
Die verdagte sal na verwagting Vrydag vir die eerste keer op ’n aanklag van oortreding van die wet op dwelmmiddels en dwelmsmokkelary rakende die vervaardiging van onwettige dwelms in die Kranskop-landdroshof voorkom.


