Brekende Nuus
Nuus

5 j. tronkstraf ná aanval op Ian Cameron en 2 LP’s

Foto: Ian Cameron

WES-KAAP. – Die Wynberg-landdroshof het Woensdag een van die twee beskuldigdes wat op 19 Augustus 2025 vir Ian Cameron, Nicholas Gotsell en Lisa-Maré Schickerling in Philippi-Oos aangeval het, tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. Die jonger beskuldigde is ’n opgeskorte tronkstraf en korrektiewe toesig opgelê.

Cameron, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, sê albei beskuldigdes het skuld erken op poging tot roof met verswarende omstandighede. Hy sê op die betrokke dag was hy en die ander twee parlementslede op pad terug van ’n parlementêre toesigbesoek toe aanvallers hul voertuig in stadig bewegende verkeer in Browns Farm omsingel, die ruite stukkend geslaan en probeer het om in die voertuig te kom. Volgens Cameron het Gotsell ’n skedelbreuk en ’n afgeskeurde slagaar opgedoen. “Ek onthou hoe ek na Nicholas langs my gekyk het. Hy was bewusteloos en vol bloed. Ek het nie geweet of hy dood of lewend was nie.” Cameron se tande is gebreek en sy lippe is ernstig beseer. Schickerling is ook getref. 

Cameron sê hy het sy gelisensieerde vuurwapen gebruik om hulle te beskerm en een van die aanvallers gewond. Hy het kol. Pretorius, die ondersoekbeampte, en die vervolgingspan bedank en gesê die voorval het sy steun vir wettige vuurwapenbesit en verantwoordelike selfverdediging versterk.

Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, sê die aanval het in New Eislebenweg plaasgevind nadat die parlementslede van die polisie-akademie in Philippi vertrek het. Die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdade het die saak ondersoek en twee verdagtes in hegtenis geneem. Volgens die polisie is die derde verdagte in ’n onverwante voorval dood. Twigg sê Lisolethu Klaas is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. Sy 17-jarige medebeskuldigde is tot drie jaar tronkstraf gevonnis, wat vir vyf jaar opgeskort is. Die tiener is ook tot drie jaar korrektiewe toesig opgelê.

Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê die hof het albei beskuldigdes onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. Die tiener se tronkstraf is ten volle opgeskort op voorwaarde dat hy gedurende die opskortingstydperk nie roof met verswarende omstandighede pleeg waarvoor hy skuldig bevind word nie. Hy is ook vir een jaar onder toesig van ’n proefbeampte geplaas. Sy korrektiewe toesig sluit huisarres met bepaalde uitsonderings, 16 uur gemeenskapsdiens per maand en deelname aan voorgeskrewe behandelings- en rehabilitasieprogramme in.

Volgens die NVG het Klaas in sy pleitverklaring erken dat die groep beplan het om die insittendes van die voertuig se selfone en ander waardevolle items te roof. Hy het erken dat hy ’n baksteen deur die ruit aan Gotsell se kant gegooi het. Volgens die verklaring het Cameron vir Klaas in die bors geskiet voordat die groep die roof kon uitvoer. Klaas is later in die hospitaal in hegtenis geneem.