VRYSTAAT. – 11 verdagtes, onder wie drie grensbeamptes en vyf polisiebeamptes, is in hegtenis geneem in ’n korrupsieondersoek by die Van Rooyen’s Gate-grenspos tussen Suid-Afrika en Lesotho.
Dr. Michael Masiapato, kommissaris van die Grensbestuursowerheid, sê die ondersoek fokus op bewerings dat Lesotho-burgers gehelp is om die grens onwettig oor te steek. Drie Lesotho-burgers wat na bewering dié grensoorstekings gefasiliteer het, is reeds voor die gesamentlike operasie in hegtenis geneem. Die drie grensbeamptes en vyf polisiebeamptes is vroeg Vrydagoggend aangekeer. Nog ’n polisiebeampte is gedagvaar om in die hof te verskyn.
Die Grensbestuursowerheid sê die 11 verdagtes word aangehou en sal na verwagting op aanklagte van korrupsie en oortreding van die Immigrasiewet teregstaan. Die operasie was nog aan die gang toe die verklaring uitgereik is.