GAUTENG. – ’n Man is Vrydag in Benoni in hegtenis geneem nadat die polisie sy dogter ongedeerd by haar skool gevind het. Hy het vroeër beweer sy is ontvoer. Volgens die polisie het die man hom ook na bewering as ’n regspraktisyn voorgedoen.
Lt.kol. Isaac, polisiewoordvoerder, sê die man het aangemeld dat hy gekaap en sy dogter ontvoer is. Nadat die polisie haar opgespoor het, het hy volgens die verklaring erken dat hy die ontvoeringsaanklaging versin het om die polisie sover te kry om die beweerde kaping van sy voertuig te ondersoek.
Terwyl hy hom ook as ‘n prokureur voorgedoen het, het hy glo ’n vuurwapen van ’n oorledene se familie in sy besit gehad onder die voorwendsel dat hy hulle met ’n boedelsaak help. Lêers wat by hom gevind is, behoort volgens die polisie aan ’n prokureur in Kempton Park.
Die man word aangehou op aanklagte van meineed, naamskending waarby ’n kind betrokke is, die voordoen as ’n regspraktisyn en regsverydeling. Die polisie wag op ’n verklaring van die familie voordat ’n bykomende aanklag van diefstal van ’n vuurwapen na verwagting bygevoeg sal word.