MPUMALANGA. – Die polisie het Vrydag ‘n wit Lamborghini wat in 2021 in Durban-Noord as gesteel aangemeld is, in ’n motorhuis op ’n landgoed in Witrivier opgespoor.
Beaptes van die provinsiale kapingsbestrydingseenheid in Ehlanzeni, misdaadintelligensie en ander wetstoepassingsagentskappe het die huis deursoek ná inligting ontvang is. Kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê daar is drie voertuie in die motorhuis aangetref – ’n Mercedes-Benz, ’n BMW en die Lamborghini. Die Lamborghini het geen nommerplate gehad nie, maar het met die beskrywing van die gesteelde voertuig ooreengestem. Die polisie het ná verdere ondersoek vasgestel dat die motor in Durban-Noord in KwaZulu-Natal as gesteel aangemeld is en het daarop beslag gelê.
Teen Saterdag was niemand in hegtenis geneem nie. Die polisie probeer die eienaar van die huis opspoor.