KWAZULU-NATAL. – ’n Skarebefondsingsprofiel het reeds meer as R70 000 ingesamel vir Sizwe Doncabe (45), wat Woensdag 18 November ernstig beseer is toe drie pitbulls hom in Westville aangeval het. Die veldtog het reeds sy teiken van R10 000 oorskry.
Kyle van Reenen, organiseerder van die BackaBuddy-veldtog, sê Doncabe ontvang behandeling in die hospitaal en sal plastiese chirurgie, rehabilitasie en voortgesette sorg nodig hê. Doncabe verdien ’n karige inkomste deur herwinning van weggooi-items wat hy kan verkoop of hergebruik. Die geld is bedoel vir sy behandeling, rehabilitasie en basiese lewenskoste terwyl hy nie ‘n inkomste kan verdien nie.
Volgens Doncabe se weergawe op die veldtogblad het hy die straat oorgesteek nadat hy gesien het hoe die huiseienaar vullissakke uitsit. Hy sê die hek was nog oop toe die honde hom aangeval het, voordat hy by die sakke kon kom. Die huiseienaar beweer hy het haar erf betree. Doncabe betwis dit. Die Westville-polisie het ’n saak geopen om die voorval te ondersoek. Toe die veldtogblad gepubliseer is, was daar geen bevestiging van ’n saak teen Doncabe nie.
Van Reenen het as paramedikus gewerk en het ervaring in die private veiligheidsbedryf en nooddienste in Durban. Hy het in Junie ’n BackaBuddy-veldtog met ’n teiken van R5 000 begin om adjudant-offisier Karl Sander se koffiemasjien te vervang. Sander, ’n beampte van die Valke, het voor die Madlanga-kommissie getuig dat iemand dit uit sy kantoor gesteel het. Dié fonds het meer as R600 000 ingesamel.
Doncabe vra ook hulp om sy ooms, Gcinokwakhe Mbhele en Mjabu Mbhele, oor sy hospitalisasie in te lig. Enigiemand wat hulle ken, kan die Westville-polisie by 031 267 7343 kontak.