GAUTENG. – Die Meyerton-landdroshof het Manaki Lucia Sizane (74) tot drie jaar direkte tronkstraf gevonnis vir die diefstal van agt flesse Douwe Egberts-koffie ter waarde van R1 919,92 op 11 September 2026 by ’n OK Foods in Meyerton. Sizane was tussen 1988 en 2026 reeds 19 keer aan diefstal skuldig bevind.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê die winkelbestuurder het die volgende dag tydens ’n voorraadopname opgemerk dat die koffie weg is. Die verkoopsrekords het getoon dat die flesse nie verkoop is nie. Op kringtelevisiebeeldmateriaal kon die bestuurder sien hoe twee vroue die agt 200 g-flesse, wat elk R239,99 gekos het, onder hul klere wegsteek en die winkel verlaat sonder om te betaal. Toe die vroue op 13 September na die winkel terugkeer, het die bestuurder hulle herken en veiligheidspersoneel en die polisie ontbied. Die ander vrou het weggekom. Sizane is in hegtenis geneem.
Sizane het skuld beken en die hof gevra om ’n vonnis sonder tronkstraf op te lê. Salome Brits, distrikshofaanklaer, het vir direkte tronkstraf aangevoer en die hof meegedeel dat Sizane tussen 1988 en 2026 reeds 19 keer aan diefstal skuldig bevind is. Die Vereeniging-landdroshof het haar onlangs ’n boete van R4 000 of agt maande tronkstraf opgelê vir die diefstal van Jacobs Krönung-koffie ter waarde van R1 529,91. Die landdros in Meyerton het met die staat saamgestem dat Sizane geen berou getoon het nie en nie uit haar vorige veroordelings geleer het nie. Die hof het haar ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Die NVG se batebeslageenheid in Pretoria het in die twee koffiediefstalsake beslagleggingsbevele van altesaam R3 449,83 verkry. Advokaat Sibongile Mzinyathi, direkteur van openbare vervolging in Pretoria, het die vonnis verwelkom.