Brekende Nuus
Munisipaliteite

Herman Mashaba ná 7 jaar terug as burgemeester van Johannesburg

ActionSA-leier Herman Mashaba is weer Johannesburg se burgemeester en het reeds opdrag gegee dat die stad se water- en elektrisiteitsprobleme dringend aandag geniet.

herman mashaba
Fotokrediet: Charles.Simon12 / Wikimedia Commons / CC BY 4.0

GAUTENG. – Sewe jaar nadat Herman Mashaba as burgemeester van Johannesburg uitgetree het, is die sakeman en ActionSA-leier terug aan die stuur van die stad. Hy is Vrydag 27 November tydens ’n stadsraadsvergadering as uitvoerende burgemeester verkies.

Mashaba, wat van 2016 tot 2019 as burgemeester gedien het, keer terug na ’n stad wat onder meer met watertekorte, kragonderbrekings en finansiële uitdagings worstel.

In sy aanvaardingstoespraak het hy inwoners gewaarsku dat die stad se probleme nie oornag opgelos kan word nie. Hy het inwoners gevra om geduldig te wees, maar ook om sy administrasie verantwoordbaar te hou.

Water en elektrisiteit eerste op die agenda

Mashaba het reeds die stadsbestuurder opdrag gegee om Sondag vergaderings met die bestuur van Johannesburg Water en City Power te belê.

Hy wil vasstel wat die oorsake van die voortslepende water- en kragonderbrekings is en waar dringende ingryping nodig is.

Die nuwe administrasie sal Vrydag 4 Desember sy 100-dae-aksieplan bekend maak.

Mashaba se aangekondigde prioriteite sluit onder meer die volgende in:

  • Die stabilisering van die stad se finansies en die vermindering van onnodige uitgawes.
  • Die herstel en opgradering van munisipale infrastruktuur.
  • Die werwing van bykomende metropolisiebeamptes.
  • Die herontwikkeling van vervalle en gekaapte geboue in die middestad.
  • Die bekamping van korrupsie en die herinstelling van ’n openbare tenderstelsel.
  • Die herstel van straatligte en verkeersligte.

Mashaba wil ook met die nasionale regering in gesprek tree oor die oprigting van munisipaal gefinansierde fasiliteite waar mense wat onwettig in die land  bly, vir wettige deportasieprosesse verwerk kan word.

Van sakeman tot burgemeester

Mashaba het naam gemaak as die stigter van die haarversorgingshandelsmerk Black Like Me voordat hy die politiek betree het. Hy het tydens sy eerste termyn as burgemeester die DA verteenwoordig en later ActionSA help stig.

Hy het inwoners Vrydag gevra om hom nie op grond van sy toespraak te beoordeel nie, maar eerder op grond van wat sy administrasie voortaan vermag.

Bronne: ActionSA, Stad Johannesburg