Brekende Nuus
Leefstyl

Afrikaans se taalhelde vereer by 2026-Kokertoekennings

Van lewenslange bydraes tot jong taalpioniers: Die Afrikaanse Taalraad het Vrydagaand 11 mense vir hul besondere bydraes tot Afrikaans vereer.

Kokewenners
Fotokrediet: Afrikaanse Taalraad

SUID-AFRIKA. – Persone wat reeds dekades lank vir Afrikaans werk, tot jongmense wat die taal vir ’n nuwe geslag lewend hou, is Vrydagaand (27 November) deur die Afrikaanse Taalraad (ATR) vereer.

Altesaam 11 persone het tydens vanjaar se Kokertoekennings erkenning vir hul besondere bydraes tot Afrikaans ontvang. Lida Botha en Simon Bruinders is vanjaar vir hul lewenslange bydraes tot die taal vereer.

Die jaarlikse Kokertoekennings gee erkenning aan mense wat Afrikaans bevorder en beskerm, asook dié wat ander deur die taal bemagtig. Dit bied ook aan jongmense en onderwysers die geleentheid om vir hul bydraes tot die Afrikaanse taalgemeenskap erkenning te ontvang.

Vanjaar se wenners is:

Koker vir lewenslange bydrae

  • Lida Botha
  • Simon Bruinders

Koker vir bevordering van Afrikaans

  • Leonie van Rensburg

Koker vir beskerming van Afrikaans

  • Anne-lise Halgryn

Erepenning

  • Alana Bailey
  • Lyntjie Jaars
  • Mel die Storieverteller

Onderwyser van die jaar

  • Willie van Jaarsveld

Jeugkokers

  • Jeremy Dietiso
  • Brandon Erasmus
  • Ben Barker (Junior Koker)

{{IMAGE_1}}

Die betekenis agter die Koker

Die toekenning ontleen sy naam aan die kokerboom, wat selfs in dorre en onherbergsame gebiede floreer en heldergeel blomme dra. Vir die ATR simboliseer dié boom die deursettingsvermoë en diepgewortelde geskiedenis van Afrikaans.

Bekendes wat in die verlede Kokertoekennings ontvang het, sluit Adam Small, Sandra Prinsloo, Refentse Morake, Ton Vosloo, Marlene le Roux en Shaleen Surtie-Richards in.

Die ATR beywer hom vir die bevordering van Afrikaans in al sy verskeidenheid binne ’n meertalige samelewing. Sy uitgangspunt is eenvoudig: “Afrikaans van almal, vir almal.”

Die Taalraad sal in die komende dae meer besonderhede oor elkeen van vanjaar se wenners en hul individuele bydraes bekend maak.

Bron: Afrikaanse Taalraad