Nog twee voorvalle van a-pokke is deur laboratoriumtoetsing bevestig. Een persoon is van KwaZulu-Natal en die ander van Gauteng.
Foster Mohale, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê 22 gevalle is tans deur laboratoriumtoetsing bevestig. Van hierdie gevalle het 11 volle gesondheid herwin en drie persone het gesterf.
“Beskikbare wetenskaplike data dui daarop dat die siekte van persoon tot persoon binne die grense van die land oorgedra is.”
Die twee nuwe gevalle is ‘n man (40) van Gauteng wat laas naweek na Durban gereis het. Hy het ‘n uitslag ontwikkel en is op 6 Julie in ‘n privaat gesondheidsfasiliteit gediagnoseer. Die ander geval is ‘n man (26) van Nqutu in KZN wat ook ‘n uitslag ontwikkel het en by ‘n plaaslike hospitaal was.
“Die departement van gesondheid doen ‘n beroep op die publiek om waaksaam te bly, aangesien die land op ‘n hoë gereedheidsgrondslag bly vir ‘n moontlike oplewing.”
“Ons doen ‘n beroep op alle persone wat deur kontakopsporing geïdentifiseer is om saam met gesondheidsbeamptes te werk vir sifting en ‘n moontlike diagnose om verdere oordrag van hierdie voorkombare en behandelbare siekte te voorkom.”





