GAUTENG. – Genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, sal hierdie week die aanstelling van ‘n waarnemende afdelingskommissaris vir misdaadintelligensie aankondig.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê luidens ‘n verklaring die generaal sal op ‘n aangekondigde datum en tyd die media inlig oor voortgesette polisiëringsoperasies wat tans aan die gang is om misdaad in die land te voorkom en te bekamp. Daaglikse misdaadbekamping en normale daaglikse polisiewerk by stasies en ander dienspunte sal soos normaal voortgaan. “Die mandaat en werk van die polisie, naamlik om misdaad te voorkom, te bekamp en te ondersoek, openbare orde te handhaaf, die inwoners van die Republiek en hul eiendom te beskerm en te beveilig en die wet te handhaaf en af te dwing, word op geen manier beïnvloed nie,” sê genl. Masemola.
Hy sê verder dat die mans en vroue in blou landwyd steeds hard werk om alle mense wat in Suid-Afrika woon, te dien en te beskerm. Ander kwessies wat tans in die openbare domein is, sal ook bespreek word.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





