OOS-KAAP. – Drie mans is dood en ’n vierde in die hospitaal opgeneem nadat hulle glo Saterdag omstreeks 05:00 deur inwoners in Ndevana, naby Zwelitsha, aangerand is.
Volgens lt.kol. Siphokazi Mawisa, polisiewoordvoerder, is beamptes na die toneel ontbied waar vier mans, almal om en by 30 jaar oud, ernstig beseer aangetref is. Twee van die slagoffers is op die toneel dood verklaar, terwyl twee na ’n nabygeleë hospitaal geneem is. Een van hulle is later in die hospitaal aan sy beserings oorlede en die vierde man ontvang steeds mediese behandeling.
Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.
Genl.maj. Thandiswa Kupiso, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die voorval veroordeel. Die gemeenskap word versoek om saam met die polisie te werk om die skuldiges vas te trek. Sy het gewaarsku dat mense nie die reg in eie hande moet neem nie.





