Action Society verwelkom lewenslange vonnis vir Malmesbury-molesteerder

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

WES-KAAP. – Nadat die saak meer as 20 keer oor meer as vier jaar uitgestel is, die sogenaamde Malmesbury-molesteerder op 21 Julie deur die plaaslike streekhof tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Die vonnis is vir die verkragting en seksuele misbruik van die beskuldigde se drie biologiese dogters opgelê toe hulle tussen twee en 13 jaar oud was.

Juanita du Preez, nasionale woordvoerder van Action Society, sê die saak beklemtoon die ernstige vertragings in Suid-Afrika se strafregstelsel wat slagoffers dikwels jare laat wag voordat geregtigheid geskied. Volgens Action Society is die pa reeds in Desember 2021 in hegtenis geneem, maar die volgende dag op waarskuwing vrygelaat weens ‘n geskil oor watter hof jurisdiksie gehad het. Hoewel die nasionale vervolgingsgesag later bevestig het dat die oorspronklike hof wel jurisdiksie gehad het, is hy nie onmiddellik weer in hegtenis geneem nie en is die saak herhaaldelik uitgestel.

Action Society sê die uitstelle is onder meer veroorsaak nadat die man drie keer van regsverteenwoordiging verander het en vir psigiatriese waarneming verwys is. Die wagtyd vir ‘n plek by Valkenberg- psigiatriese hospitaal het die hofverrigtinge verder vertraag. Spesialiste het uiteindelik bevind dat hy geskik is om verhoor te word en strafregtelik aanspreeklik gehou kan word. Volgens Action Society is die tekort aan staatsgeriewe vir psigiatriese waarneming een van die grootste struikelblokke in die strafregstelsel, aangesien howe dikwels maande lank moet wag vir beskikbare plekke, wat vervolgings vertraag en slagoffers in onsekerheid laat.

Du Preez sê die slagoffers moes intussen leef met die moontlikheid dat hulle hul beweerde misbruiker in die gemeenskap kon raakloop, ondanks sy erkenning dat hy seksuele drange teenoor kinders ervaar. “Na meer as vier jaar en meer as 20 kere se uitstel het geregtigheid uiteindelik die Malmesbury-molesteerder ingehaal,” sê Du Preez. Sy voeg by dat sake waarin kinders seksueel misbruik word, nooit só lank behoort te neem voordat dit afgehandel word nie.

Die organisasie sê die vonnis bied uiteindelik aan die slagoffers die geleentheid om met die genesingsproses te begin, maar wys ook op groter probleme in die strafregstelsel waar herhaalde uitstelle en kapasiteitstekorte geregtigheid vertraag. “Wanneer geregtigheid jare neem, faal die stelsel die mense wat dit veronderstel is om te beskerm,” sê Du Preez.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief