GAUTENG. – Die nasionale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), genl. Fannie Masemola, het die land verseker dat sowel die president as die adjunkpresident in veilige hande is ná ’n skietvoorval waarin die adjunkpresident se konvooi betrokke was.
Volgens Masemola is ’n omvattende ondersoek onmiddellik ná die voorval van stapel gestuur, met die ballistiese verslag reeds afgehandel. ’n Hoëvlak-span is aan die saak toegewys wat die voorval ondersoek. Masemola het ook bevestig dat veiligheidsmaatreëls vir beide leiers verskerp is en het sy waardering uitgespreek teenoor die Presidensiële Beskermingsdiens (PBD) vir hul professionele hantering van die situasie.
Brig. Athlenda Mathe sê Misdaadintelligensie sal aanhou met gereelde risiko- en bedreigingsevaluerings vir beide die president en adjunkpresident. Lede van die presidensiële beskermingsdiens (PBD), wat aan die uitvoerende gesag toegeken is, is tot ‘n hoë vaardigheidsvlak opgelei en beskik oor die nodige kundigheid en vermoëns om enige risiko en bedreiging af te weer. Hulpbronne wat aan die lede toegeken is, is voldoende om enige direkte en dreigende bedreiging teen hul lewens te voorkom.
“Hoewel dit nie algemene praktyk is om veiligheid- en sekuriteitsaspekte van die uitvoerende gesag te bespreek nie, ag die nasionale kommissaris dit gepas om die land te verseker dat voldoende hulpbronne altyd toegeken word om lede van die nasionale uitvoerende gesag te beskerm,” het genl. Masemola gesê.
Die ondersoek duur voort en verdere inligting sal bekend gemaak word soos dit beskikbaar raak.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





