‘n Afgetrede majoor-generaal, adv. Thuto Gaogakwe Phefo (62), is Maandag deur die Kimberley-streekhof vir oortreding van die wet op die voorkoming en bekamping van korrupte aktiwiteite skuldig bevind.
Kol. Katlego Mogale, woordvoerder vir die NVG in Gauteng, sê die aanklag is in Augustus 2017 teen Phefo aanhangig gemaak. Die klaagster het vir ‘n brigadierpos aansoek gedoen, waarvoor sy die kortlys gehaal het. Tydens assessering het Phefo die klaagster genader en vir haar ‘n dokument gegee en gesê dit is wat hy tydens die onderhoudvoering verwag. Die klaagster het gesien die dokument is ‘n gevallestudie. Sy het gesê Phefo het R70 000 vir die dokument gevra, waarvan sy vir hom R48 000 betaal het.
“‘n Navraag is op 2 Augustus 2017 geopen, wat tot die loods van ‘n operasie gelei het. Phefo is kort daarna, nadat hy die balans van R22 000 geëis en ontvang het, gearresteer. Hy is op borgtog van R4 000 vrygelaat en het tot sy skuldigbevinding 48 keer in die hof verskyn.”
Die klaagster is uit die polisie ontslaan. Phefo is tydens ‘n departementele saak vrygespreek, waarna hy op 21 Maart 2020 op vervroegde pensioen uit die polisie getree het.
Die kriminele saak is tot 18 Oktober vir vonnisoplegging uitgestel.
“Na skuldigbevinding is borg nie vir Phefo verleng nie en hy bly in aanhouding.”