VRYSTAAT. – Agt persone het gesterf toe ‘n bakkie met insittendes Saterdag onderweg van Heilbron op die Welgeluk-grondpad tussen twee plase deur ‘n stroom meegesleur is.
Kapt. Loraine Earle sê die bakkie met insittendes het nooit Saterdagmiddag sy plaasbestemming bereik nie. Dit het glo die Kliprivier-laagwaterbrug oorgesteek en is deur ‘n sterk stroom meegesleur. Die manlike bestuurder (71), sy vrou (62), drie kleinkinders – twee seuns (10) en ‘n meisie (14) – het saam met kollegas, ‘n man (34) en ‘n vrou (33), asook hulle kleuterdogter (2), in die bakkie gery. Hulle is die nag van 2 Maart as vermis aangemeld, waarna ‘n soektog geloods is. Die bakkie is Maandagoggend deur ‘n boer ontdek. Soek-en-reddingshonde van die polisie, asook duikers, is ontplooi en die liggame is uit die water gehaal.
Earle sê die Heilbron-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen.
“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) doen ‘n beroep op die gemeenskap om uiters versigtig te wees in reënerige toestande en om oorstroomde gebiede, veral laagwaterbrûe, riviere en strome, te vermy, al lyk die water vlak. Moenie probeer loop of deur vinnig bewegende water ry nie, aangesien die diepte en sterkte daarvan bedrieglik kan wees. Vind alternatiewe roetes en wag vir watervlakke om te sak voordat jy verder gaan.”





