Kaartjies vir Afrikaans is Groot-konserte vir vanjaar was vanaf Dinsdag 10:00 te koop. Nie net is nog ‘n konsert aangekondig nie, maar al tien die konserte het voor 20:00 uitverkoop.
Arnold Coleske en die organiseerders het dié ondersteuning in die 100ste bestaansjaar van die Afrikaanse taal vir hierdie jaar se konserte bedank.
Die konserte vind op 7, 8, 9, 14, 15 en 16 November in die SunBet-arena in Pretoria plaas.
Lees meer hier onder:
Afrikaans is Groot skryf geskiedenis met tien tjokkenblok konserte
Met nederigheid en opregte dankbaarheid vier Afrikaans is Groot ’n ongekende mylpaal: vir die eerste keer in sy geskiedenis is tien konserte tjokkenblok. Dit is ’n eerste vir enige Afrikaanse konsert in Suid-Afrika en ’n bewys van die enorme ondersteuning en liefde vir Afrikaans en sy musiek.
“Ons is oorweldig, dankbaar en geseënd,” sê die organiseerders. “Ons belowe om die grootste konsert van alle tye op die planke te bring.”
Hierdie mylpaal is des te meer spesiaal, aangesien Afrikaans as amptelike taal in 2025 sy 100ste bestaansjaar vier. “Dit is net gepas dat ons hierdie enorme mylpaal by die grootste Afrikaanse konsert vier,” sê Arnold Coleske, uitvoerende vervaardiger van Afrikaans is Groot.
Arnold voeg verder by: “Aan elkeen wat kaartjies gekoop het, wat gewag en geklik het, wat geglo het – hierdie is júlle oorwinning. Sonder julle is daar geen verhoog, geen ligte, geen musiek nie.”
Afrikaans is Groot beloof om ’n viering van ons taal en kultuur te wees. “Dankie dat julle Afrikaans is Groot dra, met soveel liefde en lojaliteit. November gaan vuur en vlam wees – en dit is alles aan julle te danke.”
Afrikaans is Groot 2025 word met trots aangebied deur Virseker, in samewerking met Laeveld Agrochem, Netwerk24 en Belgravia Gin.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com