WES-KAAP. – Die Riversdal-polisie het 12 verdagtes in hegtenis geneem nadat ’n aanval by ’n huis in Van Riebeeckstraat op 12 Augustus omstreeks 23:00, tot die dood van ‘n man (33) gelei het. Hulle het vandag in die Riversdal-landdroshof verskyn waar die saak tot Woensdag vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel is. Die 12 bly in aanhouding.
Sers. Christopher Spies, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring volgens verslae is die polisie op die betrokke aand na die huis ontbied nadat ‘n groep verdagtes dit geplunder en die inwoners aangerand het. ’n Televisie, drie selfone en ’n handsak is gesteel voordat die aanvallers hulle uit die voete gemaak het. Een van die inwoners was egter vermis en ’n soekspan is onmiddellik saamgestel.
Tydens ‘n soektog is ‘n groen Toyota Corolla en ’n wit Opel Corsa, onderskeidelik naby die Riversdal-polisiekantoor en op pad na Mosselbaai, opgespoor. Die insittendes is in hegtenis geneem. Meer persone van belang is later in Stegweg, Riversdal, sowel as op ’n grondpad naby Albertinia vasgetrek, met skerp voorwerpe en van die gesteelde goedere in hulle besit. Die soektog het ook na ’n plaas in Stegweg gelei, waar die liggaam van die vermiste man met verskeie oop wonde aan sy kop, rug en liggaam gevind is. Hy is op die toneel dood verklaar.
Die verdagtes, onder wie vier Egiptiese burgers, word van moord, ontvoering, huisroof, opsetlike saakbeskadiging en besit van vermoedelik gesteelde goedere aangekla. Die moontlikheid dat hierdie voorval verband hou met die dood van ’n 25-jarige Egiptiese man die vorige naweek, word ondersoek.
Genl.maj. Phumzile Cetyana, distrikskommissaris van die Tuinroete, het die Riversdal-polisie, Hessequa- munisipale wetstoepassing, brandweer, verkeersdiens en die publiek vir hulle hulp met die soektog bedank.
Bykomende hulpbronne is deur die Wes-Kaapse polisiebestuur aan Riversdal toegewys in ’n poging om enige verdere voorvalle te voorkom. Lede van die openbare orde-polisiëring sal in die gebied teenwoordig wees om die situasie te monitor