Owen Haywood (12) is met een nier gebore en is tans in ‘n regeringshospitaal in Springs met nierversaking opgeneem. Hy word slegs gestabiliseer, terwyl na ‘n instansie gesoek word waar hy doeltreffend bygestaan kan word. Volgens sy ma sal die regte behandeling in die regte hospitaal moontlik sy lewe kan red, aangesien die hospitaal waar hy tans is nie oorplantings doen nie.
Johanna van der Westhuizen, Owen se ma, sê hy het ongeveer twee weke gelede skielik siek geword. Die skool het haar gebel om hom te kom haal omdat hy baie bleek was. By die staatskliniek is bevind sy bloeddruk is hoog en sy bloedsuiker laag. ’n Ambulans het hom na die staatshospitaal geneem, waar toetse bevestig het hy het nierversaking.
Op 6 Augustus is hy na die Nelson Mandela-kinderhospitaal in Johannesburg geneem. Spesialiste het gesê hy is te swak vir dialise en het dringend ’n nieroorplanting nodig om te kan oorleef. Owen se familie is egter weens swak gesondheid en ouderdom nie as nierskenkers geskik vir hom nie.
Owen se ma smeek om hulp om haar seun se lewe te red en stap elke dag twee uur om met besoektye by hom te kan wees. Sonder ‘n geskikte nier moes sy hoor hy het slegs enkele maande oor om te lewe.
Intussen het Johanna nuus gekry dat ‘n dokter by die Johannesburg Algemene Hospitaal moontlik van hulp kan wees, maar daarvoor moet sy huidige dokters die nodige reëlings tref. ‘n Abses is boonop in die week in Owen se arm gedreineer.
Druk hier om Owen se vordering op ‘n spesiaal geskepte Facebook-blad te volg.
Druk hier om na Owen se BackaBuddy-profiel te gaan waar daar reeds meer as R144 000 ingesamel is.





