MPUMALANGA. – Drie verdagtes in die moord op sers. Lawrence Mtshweni is tydens ‘n oorgrensoperasie deur die Mpumalanga-polisie en die Koninklike Eswatini-polisie in Eswatini opgespoor. Twee is deur die polisie doodgeskiet en een het homself om die lewe gebring. ‘n Vierde verdagte is vroeër deur die Mpumalanga-polisie in hegtenis geneem.
Brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring twee van die verdagtes is volgens die koninklike Eswatini-polisie in die Sishweleni-streek opgespoor. Toe hulle die polisie opmerk, het hulle geskiet, waarop die polisie teruggeskiet en hulle noodlottig gewond het. Verdere ondersoeke het na nog ‘n verdagte in Mantambe gelei, waar hy homself met sy eie pistool doodgeskiet het voordat hy in hegtenis geneem kon word.
“Namens alle mans en vroue in blou en die familie van sers. Lawrence Mtshweni wil ons die Koninklike Eswatini-polisie onder leiding van kommissaris Masango en die rol van die Umbutfo-verdedigingsmag bedank vir hulle hulp om hierdie verdagtes op te spoor. Ons sien uit daarna om samewerking in wetstoepassing verder te versterk,” het genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, gesê.
Sers. Mtshweni is op 8 Augustus deur meer as sewe gewapende rowers tydens ‘n rooftog by ‘n winkel in Schoemansdal, doodgeskiet. Die eerste verdagte is Saterdag in Suid-Afrika deur Mpumalanga-polisie in hegtenis geneem. Verdere ondersoeke het gelei tot die koninkryk van Eswatini, waar inligting gedeel is met die Koninklike Eswatini-polisie, asook die Umbutfo Eswatini-verdedigingsmag.
Jabulani Moyo, word steeds deur die polisie gesoek, nadat hy twee speurders tydens vervoer na die Boksburg-tronk doodgeskiet het. Die polisie het ’n beloning van R150 000 uitgeloof vir inligting wat tot Moyo se inhegtenisneming sal lei. Polisiebestuur sal die begrafnisse van drie polisiebeamptes wat tydens die uitvoering van hulle pligte gesterf het, bywoon – AO Vuyisile Sintwa s’n Sondag in Mandilore, Krugersdorp, dié van sers. Simon Masenye Saterdag in Munsieville en sers. Lawrence Mtshweni s’n ook Saterdag in Schoemansdal.
Die SAPS-herdenkingsdag vind op 7 September plaas, waartydens 27 polisiebeamptes wat aan diens gesterf het, vereer sal word.
Lees ook meer hier onder:





