Brekende Nuus
Afrikaans

Altesaam 13 polisielede as deel van spesiale taakmag verwelkom

Die Spesiale Taakmag, die elite-eenheid van die polisie, het vandag 13 lede verwelkom wat hulle opleiding suksevol afgehandel het.

Foto's: SAPD
Foto's: SAPD

Altesaam 13 polisielede is vandag by die Tshwane-polisie-akademie in Pretoria in die elite-eenheid van die polisie, die spesiale taakmag, verwelkom nadat hulle vyftien maande opleiding gehad het. Hulle sal die STF Parachute Wing met trots op hul linkerbors dra.

Brig. Athlenda Mathe sê hierdie was die 37ste keer wat lede aansoek gedoen en ‘n opleidingsprogram deurloop het. Meer as 525 aansoeke is ontvang. In die eerste vyf weke van keuring het 150 lede geslaag en 110 lede het die opleidingstydperk betree, waarvan slegs 13 uiteindelik die kursus suksesvol deurloop en in die eenheid verwelkom is.

Die lede word opgelei om met vaardigheid slegs op hoërisikovoorvalle te reageer. Hulle word ook by hoërisiko- en gyselaarsituasies, ontvoerings, transitorooftogte en onwettige mynbedrywighede regoor die land ontplooi.

Die STF Parachute Wing dui aan hierdie lede is op ‘n hoë vlak van wapenvaardigheid, taktiek vir gyselaarvrylating en die vermoë om operasioneel per valskerm in alle gebiede te ontplooi, opgelei.

“We cannot wait to serve our communities and give our country our best”.

“We want to be seen as super humans and be able to tackle serious and violent crime in our country”.

Mathe sê om by hierdie eenheid aan te sluit, moet polisielede 32 jaar of jonger wees en moes reeds vir ten minste twee jaar in die operasionele sy van die polisie gedien het. Lede moet ook die keuringsproses suksesvol deurgaan, wat uit verskeie streng oefeninge bestaan om te bepaal of die lid die opleidingsprogram kan deurstaan.