NOORD-KAAP. – ‘n Span speurders van Roodepan-polisiestasie het Woensdag tydens ‘n opsporingsoperasie 18 gesoekte verdagtes in hegtenis geneem.
Volgens sers. Timothy Sam is die verdagtes vir verskeie misdade soos poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, roof, inbraak en diefstal, rig van ‘n vuurwapen, diefstal en die verontagsaming van beskermingsbevele, vasgetrek. Sommige het hofbevele verontagsaam en oortree.
Sam sê al die verdagtes is by hulle huise in hegtenis geneem en het in die Kimberley-landdroshof verskyn.
“Die publiek word daaraan herinner dat versuim om in die hof te verskyn nie verskoonbaar is nie. Die hof kan gronde vind om sonder geldige bewyse of verduideliking nog ‘n misdaad by bestaande aanklagte te voeg.”





