MPUMALANGA. – Altesaam 80 skape, ter waarde van R232 000 is Donderdag van ‘n plaas in Daggakraal gesteel. Die skape is in ‘n kraal nie ver van die plaas nie teruggevind en ‘n verdagte (24) is in hegtenis geneem.
Kapt. Magonseni Nkosi sê luidens ‘n persverklaring ‘n werker van die boer het hom op die betrokke dag ingelig die skape is gesteel. Die boer het die Langfontein-groep boere in kennis gestel, wat spore gevolg het wat hulle direk gelei het na die verdagte se kraal waar die skape was.
‘n Heining is glo geknip en die skape is aangery, maar is deur samewerking van die polisie en boere teruggevind. Toe die boere op die skape in die kraal afkom, het hulle die polisie in kennis gestel. Die skape is positief deur hulle geregistreerde brandmerke uitgeken. ‘n Ondersoek om vas te stel of ander verdagtes aan die saak gekoppel kan word, duur voort.
Die verdagte is vir die besit van gesteelde vee in hegtenis geneem. Hy sal Maandag in die Amersfoort-landdroshof verskyn.