WES-KAAP. – ’n Gewelddadige voorval by die Oudtshoorn Medium A Korrektiewe Sentrum het tot die besering van amptenare en die dood van ’n gevangene gelei.
Singabakho Nxumala, woordvoerder vir korrektiewe dienste, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die voorval het ná ’n deursoekingsoperasie Woensdagoggend ontstaan. Gedurende dié operasie het oortreders in Kamer 005 van A-afdeling aanvanklik geweier om saam te werk. Amptenare het egter daarin geslaag om toegang te verkry en die deursoeking voort te sit. Verskeie verbode items, insluitend selfone en dwelms, is gekonfiskeer.
Donderdagoggend, kort voor 08:00, het oortreders van dieselfde kamer, tydens oopsluit, ’n gewelddadige aanval op amptenare geloods. Vier van die 18 amptenare wat aan diens was, het steekwonde aan die gesig, kop en rug opgedoen. Hulle het mediese behandeling ontvang, en die werknemersbystandsprogram is geaktiveer om ondersteuning te bied aan hulle en hul families.
Een van die oortreders wat by die voorval betrokke was, is beseer en het ondanks mediese hulp later gesterf. Die voorval sal verder ondersoek word volgens die departement se prosedures. Die situasie by die sentrum is tans onder beheer. Oortreders wat by die aanval betrokke was, is in enkelselle geplaas hangende dissiplinêre stappe. A-eenheid is weer deursoek en bykomende wapens is gekonfiskeer. Alle besoeke en aktiwiteite is tot verdere kennisgewing opgeskort.
Nxumalo sê Makgothi Samuel Thobakgale, die nasionale kommissaris van korrektiewe dienste, het met kommer kennis van die voorval geneem. “Die veiligheid van amptenare en oortreders bly ons hoogste prioriteit. Voorvalle van hierdie aard is uiters kommerwekkend, en ons is verbind tot ’n deeglike ondersoek na alle bydraende faktore.”





