Anika Smit se moordsaak nou onder oë van Mike Bolhuis

Lees ook :

Foto: Specialised Security Services

GAUTENG. – Anika Smit was 17 jaar oud, ‘n gr.11-leerling aan Hoërskool Gerrit Maritz in Pretoria-Noord toe sy op 10 Maart 2010 vermoor is. Na 14 jaar het haar pa, Johan Smit, die hulp van Mike Bolhuis ingeroep om die moordsaak te help ondersoek.

Mike Bolhuis van Specialised Security Services sê Smit het dié diens op 16 Oktober 2024 aangestel. Smit het gevra die omstandighede van Anika se dood moet weer volledig ondersoek word. Smit het homself onlangs aan ‘n forensiese poligraaftoets onderwerp, wat bevind het Smit is nie aan die moord op sy dogter gekoppel nie.

Bolhuis sê die samewerking van al die persone wat by die moordsaak betrokke was en steeds is, is noodsaaklik om die saak op te los wat nie net Pretoria-Noord nie, maar die hele land geskok en internasionale media geïnteresseer het.

“Die betrokkenheid van Specialised Security Services by hierdie ondersoek moenie gesien word as wantroue in die owerhede wat hierdie saak van die begin af ondersoek het nie, maar eerder as ‘n geleentheid om saam te werk en hulpbronne te kombineer om hierdie saak op te los, aangesien dit bewys is dat dit doeltreffend is, soos in vorige gevalle van soortgelyke aard.”

Bolhuis beklemtoon dit is van belang om te verstaan Specialised Security Services werk altyd ter ondersteuning van owerhede en nie teen of apart van hulle nie.

“Specialised Securtiy Services monitor hierdie saak al vir baie jare en was nog altyd beskikbaar om te help, maar dit was eers nou dat ‘n amptelike mandaat van mnr. Johan Smit verkry is, wat dié diens opdrag gegee is om ‘n deeglike ondersoek na die saak te doen.”

Op die betrokke dag het Anika, wat olik gevoel het, tuis gebly. Voordat haar pa werk toe is, het hy gereël vir die plaaslike apteek om die oggend medisyne af te lewer. Onderweg werk toe het hy ‘n taak by die skool afgelaai en het daarna werk toe gegaan, totdat sy skof verby was.

By die Smit-huis het die afleweraar nie antwoord gekry nie en het na verskeie probeerslae weggery, met die medisyne onafgelewer.

Die buurman het die oggend op pad dorp toe die hek in sy oprit toegemaak en met die Smitte se honde, wat voor in die erf was, gespeel. Die veiligheidshek was gesluit. Met sy terugkeer was die honde agter in die erf toegesluit en die veiligheidshek was oop. Dit het nie verdag voorgekom nie, aangesien die buurman aangeneem het ‘n vriend het Anika besoek.

Ongeveer 12:00 het ‘n buurvrou ‘n vrou hoor skree. Die buurvrou het agterna besef dit kon Anika gewees het wat vir hulp skree.

Smit het laatmiddag by die huis gekom en dit vreemd gevind dat die honde agter toegesluit was en die veiligheidshek oop. ‘n Huisreël was die veiligheidshek moet ten alle tye gesluit wees. Smit het die huis binnegegaan en tekens van ‘n worsteling in die sitkamerarea opgemerk. Hy het na Anika geroep, maar sy het nie geantwoord nie.

In haar kamer het hy haar liggaam op die slaapkamervloer aangetref. Anika was vermoor, met ‘n voorwerp verkrag en haar hande was vermis.

Die polisie het die saak ondersoek en binne maande was ‘n verdagte, bekend aan Anika, gearresteer. Die verdagte kon ‘n alibi vir die dag verseker en sy DNS het nie met dié wat op die toneel gekry is ooreengestem nie. Gedurende 2016 het ‘n ander verdagte homself aan die owerhede oorhandig en skuld aan die moord beken. Sy DNS het ook nie met dié op die toneel ooreengestem nie. Hy het sy bekentenis onttrek en verklaar hy was gedwing om aan die misdaad skuld te beken. Hy was deur ‘n onbekende paar in ‘n klub genader, wat sy familie se lewens bedreig het sou hy nie vir die misdaad skuld beken nie.

“Dit is nou 14 jaar later en die moordondersoek na die dood van mej. Anika Smit het koud geword. ‘n Geregtelike doodsondersoek is egter gelas en verskeie persone van belang word geroep om hul getuienis in die hof te lewer met die hoop om nuwe bewyse te identifiseer wat kan help om die saak op te los,” het Bolhuis gesê.

Enigiemand met relevante inligting word gevra om SSS se spesialis-ondersoekers te bel. Dit sal met die strengste vertroulikheid en beskerming vir elke persoon hanteer word.

Luke Enslin kan by 082 222 5821, Vince Harris by 082 673 1830, Ben Booysen by 064 727 1651, Chris Coetser by 082 457 4007, Antoinette Coetser by 082 319 4751, Jacques Visser by 067 161 2570 en Anthony Boucher by 064 747 3323 gebel word.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief