GAUTENG. – ‘n Apteker van Vanderbijlpark is gister vir die beweerde onwettige verkoop van skedule 5-medikasie in hegtenis geneem.
Volgens kol. Dimakatso Nevhuhulwi is ‘n wenk oor ‘n plaaslike apteker wat glo hoesmedisyne in groot hoeveelhede aan jongmense verkoop, ontvang. ‘n Operasie is saam met die Suid-Afrikaanse Aptekersraad en die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte Regulerende Owerheid gehou.
Nevhuhulwi sê ‘n man wat uit die apteek gekom het, is voorgekeer en sy inkopiesak deursoek. Twee bokse Astra Pain-stroop wat 20 eenhede per boks bevat het, is deur die polisie gevind.
Die apteek is ook deursoek en ‘n inspeksie is uitgevoer. Die apteker is in hegtenis geneem omdat hy nie rekord gehou het van skedule 5-medikasie wat hy verkoop het nie.
Hy sal in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn.





