GAUTENG. – Dezi du Plessis (37) is Vrydag 12 Desember oorlede nadat sy sedert ’n ongeluk tydens die Soweto-marathon op 29 November in ’n kritieke toestand in die hospitaal was. ‘n Taxi het haar glo op die marathonroete gestamp.
Volgens ‘n BackaBuddy profiel vir Du Plessis het sy tydens die ongeluk ernstige beserings opgedoen. Sy het sedertdien vir haar lewe geveg, maar is Vrydag oorlede.
“Dit is met diepe hartseer dat ons deel dat Dezi vanoggend oorlede is,” is op die skarebefondsingsprofiel te lees. Daar is bevestig dat die geld wat ingesamel is nou vir mediese rekeninge, begrafniskoste, asook ondersteuning vir Du Plessis se twee jong kinders aangewend sal word.
Louis Buys het op sosiale media gesê: “Hello al my vriende. Deziree Baker, een van ons klublede, is Saterdag tydens die Soweto-marathon deur ‘n dronk, ongeduldige taxibestuurder baie ernstig beseer toe hy tussen die hardlopers ingejaag het. Dezi moes ‘n 6 ure noodoperasie ondergaan om haar lewe te red. As jy enigsins kán, dra asb. ietsie by deur hierdie Back-a-Buddy link te volg. Hoe groot of klein ookal, elke bietjie help.”
Medelye stroom op sosiale media in ná Du Plessis se afsterwe.
Die Johannesburgse metropolisie (JMPD) het op die dag van die ongeluk op sosiale media gesê ’n 39-jarige taxibestuurder is in hegtenis geneem. Die voorval het naby die kruising van Soweto-hoofweg en Mainweg/Mookistraat in Orlando-Oos en Noordgesig plaasgevind, waar JMPD-lede ontplooi was om verkeer tydens die marathon te beheer. Volgens die JMPD het die bestuurder glo probeer om van die toneel te vlug, maar is kort daarna in hegtenis geneem. Ná sy inhegtenisneming is hy aan ’n asemtoets onderwerp. ’n Lesing van 0,26 mg/l is gemeet, wat bo die wettige perk vir professionele bestuurders is. Die bestuurder is aanvanklik van bestuur onder die invloed van alkohol en tref-en-trap beskuldig.
Du Plessis is van die toneel af vir mediese behandeling na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal vervoer.





