Brekende Nuus
Rubriek

Australië pak Engeland kort ná 35ste herdenking van 1991 Rugbywêreldbeker-oorwinning

Australië pak Engeland 35 jaar ná die 1991 Rugbywêreldbeker-eindstryd op Twickenham. André van Eck kyk terug na Bob Dwyer se Wallabies, die 12-6 oorwinning en die span wat Australië se dekade gelanseer het.

Springbok Damian Willemse groet 'n Italiaanse speler ná die toets in Turyn
Foto: SA Rugby

Met Australië wat Engeland Sondag 8 November in ‘n historiese rugbytoets pak wat deel van die heel eerste Nasieskampioenskap uitmaak, het dit my laat dink aan Australië se eerste Rugbywêreldbeker-oorwinning oor einste Engeland op Twickenham, wat 35 jaar gelede op 2 November 1991 plaasgevind het.

Bob Dwyer en die 1991 Rugbywêreldbeker

Bob Dwyer, wat die Wallabies tydens die 1991 Rugbywêreldbeker afgerig het, word beskou as een van die eerste mense wat rugby as ‘n wetenskap gesien het. As afrigter het Dwyer vir sy spelers gesê dat as een van hulle hul hand by die bal kan kry en daaraan kan raak, moét hulle die bal kan beheer. Dwyer se filosofie as afrigter word ook gewys in die bekende aanhaling van die Amerikaanse voetbal-afrigter Vince Lombardi, na wie die NFL-trofee vernoem is: “Practice does not make perfect. Only perfect practice makes perfect.” Dwyer het hierdie aanhaling gereeld met sy spelers gedeel en dit het die manier waarop hulle vir wedstryde voorberei het, onderstreep.

Bob Dwyer het die Wallaby-kaptein Nick Farr-Jones presies ‘n jaar voor die 1991 Rugbywêreldbeker-eindstryd gebel en gesê dat hy ‘n glas sjampanje moet skink. Toe hy vra hoekom hy dit moet doen, het Dwyer gesê: “want vandag oor ‘n jaar wen ons die Wêreldbeker”.

Die pad na Twickenham

Australië het by die 1991 Rugbywêreldbeker in die Verenigde Koninkryk opgedaag met die doel om vir die eerste keer die toernooi te wen, en het dit van meet af aan vir die media gesê. In die groepfase het die Wallabies oorwinnings oor Argentinië (32-19), Wes-Samoa (9-3) en Wallis (38-3) behaal. In die kwarteindronde het die Wallabies vir Ierland met 19-18 op Lansdowne Road in Dublin geklop, met ‘n drie in die hoek in die doodsnikke deur losskakel Michael Lynagh in die 79ste minuut. In die halfeindstryd het die Wallabies die All Blacks met 16-6 geklop, waar Wallaby-vleuel David Campese sy spanmaat en senter Tim Horan vir ‘n drie weggestuur het met ‘n beroemde oor-die-skouer-aangee.

In die eindstryd het Australië teen ‘n sterk Engelse span te staan gekom wat ‘n top-senterpaar in Will Carling en Jeremy Guscott ingesluit het, asook die toekomstige Engelse toetspunte-rekordhouer Rob Andrew op losskakel, wat voor die eindstryd die derde meeste toetspunte in Engeland se geskiedenis gehad het met 155 punte. Die span het ook ‘n jong Jason Leonard ingesluit, wat later in sy loopbaan die wêreldrekord vir die meeste internasionale rugbytoetswedstryde sou behaal. Die span het ook die vleuel Rory Underwood ingesluit, wat ná die 1991 Wêreldbeker-halfeindstryd die rekords vir beide die meeste toetse (50) en toetsdrieë (32) vir Engeland gehou het.

12-6 op Twickenham

Australië het die eindstryd met 12-6 op Twickenham in Londen gewen, met Wallaby-stut Tony Daly wat die enigste drie aangeteken het. Aussie-vleuel David Campese het die toernooi as die gesamentlike voorste driedrukker afgesluit en is ook as die speler van die toernooi aangewys. Die span se onderkaptein en losskakel Michael Lynagh het die toernooi as die tweede voorste puntemaker afgesluit met 66 punte, net twee punte minder as Ierland se Ralph Keyes. Hierdie oorwinning is ook deur die dokumentêr The Wonderful Wallabies! Australia’s World Cup Victory (1991) herdenk, wat op VHS uitgegee is.

Die Wallaby-span van 1991 word beskou as een van die beste rugbyspanne in die geskiedenis. Die skakelpaar van Farr-Jones en Lynagh, wat onderskeidelik die kaptein en onderkaptein was, het reeds tydens die toernooi die wêreldrekord as toetsskakelpaar gehou en het uiteindelik hul rekord tot 47 toetse saam laat strek ten tye van Farr-Jones se uittrede in 1993. Die span het ook een van die spel se beste senterpare gehad in Tim Horan en Jason Little. Vleuel David Campese was reeds sedert 1987 toetsrugby se voorste driedrukker, toe hy Skotland se Ian Smith se rekord van 24 drieë verbeter het, en het uiteindelik in 1996 uitgetree met 64 toetsdrieë in 101 toetse. Losskakel Michael Lynagh het ook in 1991 die legendariese Argentynse losskakel Hugo Porta se rekord van 530 toetspunte oortref, en Lynagh het ná die 1995 Rugbywêreldbeker uitgetree met ‘n wêreldrekord van 911 toetspunte wat tot 14 Oktober 1999 gestaan het.

Vyf dubbele wêreldbekerwenners

Die Australiese span van 1991 het ook vyf dubbele wêreldbekerwenners opgelewer, met John Eales, Tim Horan, Jason Little, Phil Kearns en Dan Crowley wat ook deel van Australië se 1999 Rugbywêreldbeker-oorwinning was, met Eales as kaptein in 1999 en Horan as speler van die toernooi. Hierdie vyf spelers is ook die eerste vyf spelers wat in beide die amateur- en professionele eras as rugbywêreldkampioene gekroon is. Hulle is deel van ‘n groep van slegs ses spelers wat die prestasie van ‘n wêreldtitel as beide amateur- en professionele rugbyspelers behaal het, met Suid-Afrika se Os du Randt wat dit ook in 1995 en 2007 vermag het.

Die Wallabies kan met alle reg gesien word as toetsrugby se span van die 1990’s, met twee Rugbywêreldbeker-oorwinnings en vier Bledisloe-bekers as loure tydens hierdie dekade. Maar een ding is seker: Bob Dwyer en sy 1991 Wallabies was beslis die katalisator wat Australië as ‘n krag in wêreldrugby tydens die 1990’s geloods het. Hierdie span het ook die grondslag gelê vir Rod Macqueen en Eddie Jones se welslae as afrigters tydens die periode van die laat 1990’s tot die vroeë 2000’s.

André van Eck, Worcester