NOORD-KAAP. – Byna drie jaar nadat die 17-jarige Hesty Ann Green se liggaam op Oujaarsdag onder bourommel in ’n verlate kleuterskool in Brandvlei ontdek is, is haar moordenaar tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Shuphren Ouers (22) is Donderdag (26 November) in die rondgaande hooggeregshof op Calvinia aan moord skuldig bevind. Hy is Vrydag gevonnis en ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) sê Green en Ouers het op 30 Desember 2023 ’n dans by die Brandvlei-gemeenskapsaal bygewoon en die geleentheid saam verlaat. Green is daarna nie weer lewend gesien nie.
Haar oom, Nikolas Swartz, het destyds in die berig Haar naam was Hesty Ann Green aan Nuusflits gesê hulle het reeds vroeg die Sondagoggend na haar begin soek, nog voordat iemand die nuus gebring het dat ’n liggaam in ’n verlate gebou langs die sportgronde gevind is.
Green se liggaam is op 31 Desember 2023 onder bourommel in die verlate kleuterskool ontdek.
Ouers is op 8 Januarie 2024 by sy werkplek in Kaapstad in hegtenis geneem. Nuusflits het op 15 Januarie daardie jaar berig dat sy borgaansoek op die moordaanklag onsuksesvol was.
Swartz het tydens die borgaansoek oor die omstandighede rakende die ontdekking van Green se liggaam getuig.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het destyds ook ’n aanklag van poging tot verkragting by die klagstaat gevoeg. Ouers is egter Donderdag op dié aanklag vrygespreek.
Deur speurwerk en forensiese bewyse kon die polisie Ouers met die moordwapen en die toneel waar Green se liggaam ontdek is, verbind.
Die SAPD se bestuur in die Pixley ka Seme-distrik het die skuldigbevinding en vonnis verwelkom.
Speursersant Rhyno Marchell Sass en die vervolgingspan is vir hul volharding en toewyding ondanks die talle uitdagings tydens die ondersoek geloof.
Genl.maj. Nomana Mtukushe, die Pixley ka Seme-distrikskommissaris, het die polisie se verbintenis herbevestig om oortreders van ernstige en geweldsmisdade voor die hof te bring en hulle vir hul dade aanspreeklik te hou.
Bronne: SAPD, vorige Nuusflits-beriggewing