VSA. – Baba Cassian het met sy geboorte op 23 September vanjaar in die TriStar Centennial Women’s Hospital in Nashville, Tennessee 5.8 kg (ongeveer 12 pond 14 onse) geweeg. Luidens ‘n verklaring van die hospitaal het Cassian ‘n rekordgewig gehad en dra hy die titel van die swaarste pasgebore baba in drie jaar wat by dié hospitaal gebore is.
Shelby Martin het ‘n video van haar baba op TikTok gedeel, wat internasionaal soveel aandag getrek het dat dit al miljoene kere gekyk is. Die hospitaal het op sy Instagram– en Facebook-blad bevestig dat Cassian net een jaar ná ’n verlies op sy ma se verjaardag gebore is – en nou deel hy sy verjaardag met sy ma.
Ná die keisersnit is Cassian onmiddellik na die neonatale intensiewe sorgeenheid oorgeplaas, waar sy bloedsuikervlakke gemonitor is en hy met ’n drup en suurstof toegerus is. Mediese kenners waarsku dat ’n geboorte met so ’n swaar baba uitdagings inhou, onder meer vir die asemhaling, bloedsuikerbalans en geboortetrauma aan spiere of senuwees. Die feit dat Cassian gesond blyk te wees, is volgens dokters ’n voordelige uitkoms.
Hoewel Cassian nou die rekordhouer in dié hospitaal is, bly dit belangrik om te beklemtoon dat hy nie die swaarste baba in die wêreldgeskiedenis is nie. In 1879 is ’n baba genaamd Anna Haining Bates byvoorbeeld in die VSA gebore, wat 9,98 kg (sowat 22 pond) geweeg het.
Bronne: TriStar Centennial Medical Center, Honey, The Independent





