MPUMALANGA. – Vier persone het Maandagoggend net na middernag op die N4-tolpad naby Middelburg gesterf. Die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, maan padgebruikers tot waaksaamheid op die N4.
Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement, sê die vier persone is dood nadat ‘n bakkie en ‘n sedan wat in dieselfde rigting gereis het, mekaar van die kant gestamp het. Drie van die bakkie se insittendes, wat die bestuurder insluit, asook ‘n passasier in die sedan, het gesterf. ‘n Baba was onder die oorledenes.
Nog twee insittendes is kritiek en die bestuurder van die sedan ernstig beseer. Die beseerdes is vir mediese behandeling na Middelburg-hospitaal gehaas.
“Voorlopige ondersoek dui aan die bakkie het verskeie kere gerol nadat dit met die sedan gebots het,” het Mmusi gesê. Hy sê die oorsaak van die ongeluk is onbekend, maar ondersoek word gedoen.





