NOORD-KAAP. – Henry Manolo (30), ‘n Malawiër, staan tereg op ‘n aanklag van moord op sy babaseun, 3 mnde. oud ten tyde van die midaad. Die saak is tot Maart 2025 vir beoordeling en vonnisoplegging uitgestel.
Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder vir die NVG, sê Manolo is sedert sy inhegtenisneming in aanhouding. Manolo het glo sy babaseun vermoor en die baba se ma aangerand. Hy het glo op 26 Maart 2023 sy lewensmaat met die baba op haar rug in Boegeberg, naby Groblershoop, aangeval deur haar te trek en te stamp, waarna sy geval het. Die baba is daarna glo gewelddadig van haar geneem en teen ‘n sypaadjie gegooi.
Manolo is weg met die beseerde babaseun. Hy is die volgende oggend met die baba na sy grootouers se huis, waar die oupa later ontdek het die baba is dood. Die polisie is ontbied. Die beskuldigde, wat besig was om ‘n geleentheid na Kimberley te reël, is in hegtenis geneem.
Familie van beide die beskuldigde en die slagoffer het ‘n gewelddadige verhouding beskryf.
“Die hof moes verskeie kere ‘n pouse neem weens die ma se emosionele nood terwyl sy die gebeure van die dag vertel het.”
Manolo het gedurende kruisondervraging gesê die baba het per ongeluk uit sy arms geval toe hy die kind van die ma, wat hy as dronk beskryf het, gevat het. Hy het ook glo nie van die gereg gevlug nie, maar van sy familie wat hom leed wou aandoen.
Elmari Kruger, die staatsadvokaat, het argumenteer Manolo was nie eerlik nie en wou die hof oor die gebeure mislei.
Senokoatsane sê Kruger het aan die hof voorgehou Manolo se optrede om te probeer vlug, dui daarop dat hy bewus was van die erns van die misdaad. Sy het daarop gewys dat geen pa wat omgee sy beseerde kind in ‘n bed sou sit nie, maar onmiddellik mediese hulp sou soek.
Na slotbetoë is die saak vir beoordeling en vonnisoplegging tot 10-14 Maart 2025 uitgestel. Manolo sal tot afhandeling van die verhoor in aanhouding bly.





